Dis 'n koue dag in Nelspruit en dit lyk asof die natuur nog rustig slaap so in die mistigheid, al is dit al lankal opstaantyd gewees. Alles voel so stil.
Vanoggend 6-uur het ons die voorreg gehad om ons stilwordtyd in die kerk te kon geniet. Die kerk se deure staan vandag tot 14:00 oop vir enigeen om op sy/haar eie tyd sommer net daar te gaan stilword en persoonlik met die nagmaal bedien te word. Met die instap, terwyl sagte musiek speel vanoggend, het ons 'n blaadjie ontvang om ons te begelei in ons stiltetyd.
- Die ONTMOETING-gedeeltes was uit Gal 1:3-5 en Luk 15:17-24.
- "STIL" LOFPRYSING "ek loof U want U is...."
- VEROOTMOEDIGING Jes. 59:1+2
- GENADEVERKONDIGING 1Joh1:9, Rom5:1-2 en Ef2:8-9
Hierna in die blaadjie,: "Kry voor jou die beeld van Christus wat aan die kruis hang en hoor dat Hy sê :
- Ek het dit vir jou gedoen (... jou naam)
- Ek het jou ... lief
- Deur my bloed word jy afgewas.
- Deur my liggaam word jy genees en versterk.
Ontvang die tekens en onthou dis Ek wat dit vir jou gee.
Ek en Danie het toe vorentoe gestap waar 'n erdebak met heerlike warm water gestaan het. Hier het Jaco eers my hande gewas en afgedroog met 'n spierwit sagte handdoekie en my weer herinner aan Johannes 13. En toe is dit Danie se beurt. Ek het aangestap waar ds. Tommy my bedien het met die brood en wyn en my weer herinner het aan Jesus se liefde vir my, vir ons. Hierna het ons weer gaan sit en toe die tekens gebruik.
'n Heerlike voorreg om hierdie Hemelvaartdag so te kon begin.
Na vele gesprekke die afgelope week is dit so vredevullend !! om te weet ons Jesus LEEF !! en te kan sê "Dankie Here dat U my God is en dat U gegaan het om vir my plek gereed te maak." Want, gesprekke gaan oor kommer... finansiële druk wat skielik nog erger is. Die paadjie wat skielik nie meer so seker is nie en besoeke aan die dokter wat 'n gereelde word ... terwyl die mediese fonds dit nog toelaat. Woorde soos "moeg", "weet nie" en "moedeloos" word dikwels geuiter. En ek kan nie help om te dink aan daardie dag toe die moeg my ook onkant betrap het en ek gesukkel het om los te kom uit die vangnet, nie. Hoe ek gespartel het en meteens gevoel het hoe ek opgelig word uit hierdie vangnet. En nou kan ek langs vriendinne stap en sê ... ek weet wat jy voel, maar ek weet ook dat ons kinders van 'n liefdevolle Vader is, wat elke dag hemelverrassingkies vir ons pad bring ... soos manna uit die hemel.
Ek hoop jy sien werklik hierdie dag se verrassinkies raak.















