Die oggendstilte roep my buitekant toe. Soos elke oggend, gaan staan ek eers en kyk by die kombuisvenster uit en glimlag sommer oor die kosmosplantjies wat kiertsregop in die bedding staan. En soos die afgelope oggende, wonder ek wanneer ek daardie eerste blommetjie gaan sien.
Ek draai om, om die deur se sleutel te kry, en dis met die beweging dat my oog die pienk spikkel vang. Ek kyk en kyk weer en ja, sowaar, daar ís ‘n blommetjie! Met ‘n haastige opgewondenheid sluit ek die kombuisdeur oop en spring by die trappies af. Met groot dankbaarheid gaan hurk ek langs die bedding. Dankbaar dat hierdie saadjies wat ek nog nie eens een keer nodig gehad het om nat te gooi nie, nou as plantjies welig in die bedding staan. En dankbaar dat ek op hierdie vroeë oggend, in hierdie stilte, die eerste blommetjie se oopgaan mag beleef.
En wat ‘n belewenis!
Met die son se strale wat liggies oor die blomknoppie speel, vou die eerste blomblaartjie stadig-stadig oop. So broos ... so mooi. .. dink ek, en ek besef ek hou my asem op. Die tweede en derde blaartjies volg en die mooi oorweldig my, want die son bring nou sy sagte oggendlig en kom lê dit saggies op die pienk blaartjies neer. So saggies, dat dit ‘n satynsagte blink maak wat lig weerkaats en die ware kleure van die kosmosblommetjie laat dans in die oggendlig. O Heer, U is so groot! Hoe sal ons ooit U grootheid in hierdie klein fyn kosmosblommetjie kan beskryf? Hoe sal ons ooit al die mooi wat U vir ons kom gee, kan verstaan? Dankie Heer... dankie vir U ontferming. En ek weet : “Aan God die Vader van ons Here Jesus Christus, kom die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop ...” 1Petrus1:1-9
Mag jy WEET, dat jy hoop het wat binne jou LEEF!! En mag jy dans in hierdie weerkaatsende lig, sodat jou kleure van lig en liefde, die mense om jou saggies sal aanraak.
Liefde
Caroline















